New Age-beweging

Die New Age-beweging is een van die religieë van ons tyd wat die moeilikste definieerbaar is omdat dit, in vergelyking met ander godsdienste en religieë, in baie opsigte heeltemal uniek en selfs omstrede is. Hoewel die beweging as sodanig 'n redelik nuwe verskynsel is wat eers sedert die 1970's in die Weste werklik aandag begin trek het, is die wortels daarvan stewig gevestig in van die wêreld se oudste godsdienste, filosofieë en praktyke soos die Hindoeïsme, Wicca, Druïdisme, Godin-aanbidding, spiritisme, spiritualisme, Gnostisisme, humanisme, die antieke Egiptiese en Babiloniese godsdienste, natuur-aanbidding en astrologie. Verder bevat Nuwe Era-ideologieë ook elemente van hoofstroom-godsdienste soos die Judaïsme en die Christelike leer. In die wydste betekenis van die benaming sluit die New Age-beweging alle godsdiensgroepe, religieuse oortuigings en selfs filosofiese denke in wat daarop gemik is om 'n nuwe wêreldorde tot stand te bring waar die ganse mensdom in vrede met mekaar, die aarde (natuur) en God leef. Ander definieer dit as 'n oplewing of moderne weergawe van antieke okkult-verwante religieë wat eens op 'n tyd byna heeltemal uitgewis is terwyl nog ander dit beskou as 'n sosiaal-spirituele beweging wat die individu en samelewing wil help om sy volle potensiaal tot die maksimum te ontwikkel. Terwyl ondersteuners daarvan die New Age-beweging sien as die begin van 'n tydperk van vrede, samewerking en voorspoed op aarde, sien baie Christene dit as die vervulling van Bybelse profesieë waarvolgens die magte van die Bose (Satan) die ganse mensdom onder die skyn van vrede en broederskap in 'n Eenwêreldstelsel (een regering, een godsdiens, een kontantlose monetêre stelsel) sal saamsnoer en daaroor regeer (sien inligtingkassie: "Christene en die New Age" by die eerste artikel in hierdie reeks.) Ander nie-Christen-waarnemers sien dit ook as 'n verbloemde poging tot wêreldoorheersing en sommige wys selfs op ooreenkomste tussen die New Age-ideologie en die Nazisme. Hoe dit ook al sy, terwyl sommige meen dat hoop op die aanbreek van 'n Nuwe Era vroeg in die 21ste eeu besig is om te vervaag omdat geen noemenswaardige veranderinge met die eeuwisseling plaasgevind het nie, meen ander dat New Age-denke steeds wêreldwyd veld wen.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search